“Dit is weens die onverwagte verlenging van die verhoor,” lui ’n verklaring van Brian Webber, Oscar se prokureur.

Die verhoor, wat aanvanklik drie weke sou duur, is ná twee en ’n halwe weke tot Maandag uitgestel. Dit sal minstens nog weke lank duur, want die staat het nog nie sy saak gesluit nie.

Volgens sy prokureur betaal Oscar reg van die begin af vir sy eie verdediging.

“Weens die vertraging in die afhandeling van die verhoor, is besluit om dringend sy enkele grootste bate van die hand te sit.”

Oscar was glo nie weer by sy huis sedert hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 daar doodgeskiet het nie. Sy prokureur het ook gesê Oscar wil ook nie weer daar woon nie.

Beeld berig dat die eiendomsagentskap Ansie Louw Estates is en dat die huis volgens ’n “geslote bod-proses” verkoop gaan word.

Oscar wil glo nie die vierslaapkamerhuis vir minder as R5?miljoen verkoop nie.