Dit is nog nie duidelik wie se skuld die ongeluk was waarin Carl Pistorius se voertuig en ’n vrou van Silver Lakes in Pretoria betrokke was nie.

Só sê kapt. Marissa van der Merwe, polisiewoordvoerder.

Marissa het bevestig daar was Woensdag laatmiddag ’n botsing in Solomon Mahlangurylaan in die ooste van Pretoria waarby Carl Pistorius en Karin Lombard betrokke was.

’n Ongeluksverslag is geopen, maar geen kriminele klagte word in dié stadium ondersoek nie.

“Die ongeluk word nog ondersoek waarna bepaal kan word wie se skuld die ongeluk was,” Marissa gesê.

Volgens Rapport het dié ouboet van die voormalige paralimpiese atleet, Oscar Pistorius glo ’n verkeerslig verontagsaam waarna hy met sy Jeep Silver in Lombard se Porsche vasgery het.

Hieroor het Carl se pa, Henke in ’n Whatsapp- boodskap geskryf “min van wat berig is, is feitelik korrek”.

Al wat Henke verder bereid was om oor die ongeluk te sê, is dat niemand beseer is nie. Van der Merwe het gesê Lombard en haar huishulp, wat saam met haar in die motor was en Pistorius, het net ligte beserings opgedoen.

Carl het ernstige beserings opgedoen ná ’n gru kop-aan-kop-botsing op die N1-hoofweg buite Modimolle op 1 Augustus 2014. Hy kon vir byna twee maande nie loop nie ná hy albei bene gebreek het. Hy was vir lank in die Muelmed-hospitaal vir rehabilitasie.

Ondanks sy beserings het hy nog sy kleinboet se moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria bygewoon – met ’n rolstoel en al.

Oscar is tans besig om tronkstraf uit te dien weens die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp.

Terwyl Oscar in die hof was, was Carl ook in die hof. Hy is in Mei 2014 vrygespreek op ’n aanklag van strafbare manslag ná hy in ’n botsing betrokke was waartydens ’n motorfietsryer dood is.

Carl kon nie vir kommentaar bereik word nie.