Voor die uitspraak in Oscar Pistorius se moordverhoor lê daar ’n bos rooi rose by June Steenkamp se voete in die hooggeregshof in Pretoria.

“Ek is hier om Reeva se ma te ondersteun. Ek het haar belowe dat ek hier sal wees vir haar,” het Busi Khumalo gesê. Haar 18-jarige dogter, Zanele, is in 2011 verwurg en verkrag.

“Ons hoop geregtigheid sal vandag seëvier. Sulke pyn gaan nooit weg nie. Ons hoop hierdie seuns verander. Hulle moet van ’n jong ouderdom geleer word hoë ’n vrou behandel moet word, want vroue sterf elke dag.”

June was saam met haar man, Barry Steenkamp.

Vriende en familie van die Steenkamp-egpaar was in die hof, tesame met die ANC se vroueliga.

“Ons verwag dat geregtigheid sal seëvier,” het die vroueliga se woordvoerder in Gauteng, Jacqui Mofokeng, gesê.

“Ons wil almal afsluiting hê. Ons wil net hê geregtigheid moet oorwin. ’n Pistool is nie ’n bos blomme nie; dit moet verantwoordelik gebruik word.”

Oscar se broer, Carl, het omstreeks kwart voor agt in ’n rolstoel by die hof aangekom. Albei sy bene is in gips. Die media het hom oorval vir foto’s.

Hy is verby die medialede gestoot en deur vier mans vergesel.

Oscar se pa, Henke, is ook daar.

Regt. Thokozile Masipa sal na verwagting halftien met haar beslissing begin.

Oscar het gesê hy het gedink daar was ’n inbreker agter die toiletdeur in sy huis in Pretoria toe hy op Valentynsdag verlede jaar vier skote in daardie rigting afvuur. Hy het sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet.

Die staat beweer die moord was vooraf beplan.

Toe die verhoor op 3 Maart begin, het Oscar onskuldig gepleit op die moordaanklag, asook drie vuurwapenverwante aanklagte.

Aanhangers het ook op Twitter hul ondersteuning vir Oscar en Reeva uitgespreek.

Capture