Die hof het Dinsdagoggend van Oscar Pistorius se bestuurder gehoor dat die atleet selfs ná die skietvoorval uitnodigings gekry het om as motiveringspreker op te tree.

[caption id="attachment_85803" align="alignnone" width="620"]Foto: Marco Longari/AFP/Sapa Foto: Marco Longari/AFP/Sapa[/caption]

Die aanklaer, adv. Gerrie Nel, het Petrus tydens Oscar se vooraf vonnisverrigtinge ondervra oor ’n e-pos wat hy vroeër aan adv. Barry Roux, Oscar se regsverteenwoordiger, gestuur het. Aangeheg aan die e-pos was ’n foto van Oscar by ander gestremde mense.

Petrus het geskryf “die staat en die media neem nou al hierdie platforms weg” en Gerrie het gevra wat hy daarmee bedoel. “Ek dink as die media dit met meer respek benader het, sou mnr. Pistorius steeds ’n uitnodiging kry,” het hy gesê.

Petrus het gesê die media het verkeerd oor feite berig en as hulle dit nie gedoen het nie, sou Oscar dalk steeds geleenthede hê.

Die hof het gehoor dat Petrus selfs ná die skietvoorval uitnodigings gekry het vir Oscar om as motiveringspreker op te tree.

Onder kruisondervraging het Petrus gesê hy het later besef dit was ’n “oordeelsfout” om die staat tesame met die media in sy e-pos te blameer.

Gerrie het gesê hy het dit gesê omdat hy Oscar as ’n slagoffer beskou, maar Petrus het gesê dis nie waar nie.

“Dit is baie vreemd dat jy iets sou sê waarin jy nie glo nie . . . Ek is uit die veld geslaan, maar dit het ingesluip,” het Gerrie geantwoord.

Oscar het met sy kop vooroor gesit en notas gemaak terwyl sy bestuurder gepraat het oor die liefdadigheidsorganisasies waarby hy betrokke was.

Op 12 September is Oscar aan die strafbare manslag skuldig bevind nadat hy sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het.

- Sapa