Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria het Donderdamiddag voor eenuur verdaag.

Verrigtinge het vir eers geëindig nadat die staatsaanklaer, adv. Gerrie Nel, en adv. Barry Roux SC (vir die verdediging) hul ondervraging van die getuie Roger Dixon afgesluit het.

Die verhoor is tot 5 Mei uitgestel.

Gerrie het die vroeë verdaging aangevra omdat dit volgens hom onregverdig sou wees vir die volgende getuie om hoofgetuienis te begin lewer en dan weer te moet begin wanneer die saak oor twee weke hervat.

Barry het aan regt. Thokozile Masipa gesê hulle is bereid om meer tyd daaraan te wy wanneer verrigtinge hervat, deur óf vroeër te begin óf later te verdaag.

Oscar staan tereg op aanklag van moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien en dat die skietery ’n ongeluk was.

Hy word ook daarvan aangekla dat hy die Vuurwapenbeheerwet oortree het.

Die staat beweer hy het Reeva ná ’n rusie vermoor.

Gerrie het Donderdag die getuienis van Roger Dixon, ’n gekwalifiseerde geoloog, skerp gekritiseer.

Roger het in ’n stadium kleigetrap toe hy aan die hof sê hy het nie die dokumente saamgebring nie wat sy bevindings bevat oor die houtvernis op die prosteses wat Oscar aangehad het toe hy die toiletdeur ná die skietery probeer oopskop het.

“Hoekom het jy dit nie saamgebring nie?” het Gerrie gevra.

“Ek het nie sover gedink om dit te bring nie,” het Roger geantwoord.

Hy het aangebied om die dokumente by sy huis te gaan haal.

Vandat die kruisondervraging begin het, het Gerrie Roger se deskundigheid bevraagteken, en het ’n keer of wat genoem dat hy getuig oor sake buite sy vakgebied.

Roger het ook bewyse gelewer wat Gerrie gesê het Oscar se getuienis weerspreek.

Roger het gesê die man wat gebruik is om ’n hoogte- en sigbaarheidstoets by Oscar se huis uit te voer, is nie net so lank soos Oscar nie.

Een van Oscar se bure het getuig dat hy Oscar in sy badkamer sien rondbeweeg het nadat hy Reeva geskiet het, al beweer Oscar hy was op sy stompies.

Roger het toetse uitgevoer om te sien of dit moontlik is om Oscar van die buurman se huis te sien terwyl hy op sy stompies loop, maar die man wat hy in die proefneming gebruik het, is sowat 20 cm korter as Oscar wanneer hy op sy knieë staan.

Dit is nie in Roger se aanvanklike bewyse genoem nie.

Roger was ook nie op dieselfde plek as die buurman toe hy Oscar daardie aand sien nie, het Gerrie gesê.

Hy het gesê Roger is ’n deskundige, maar het versuim om te let op en verslag te doen oor belangrike bewyse.

- Sapa: Naledi Mailula en Gertrude Makhafola