Dr. Johan Stipp, ’n radioloog van Pretoria, is die staat se sewende getuie, wat vanoggend begin getuig het. Toe Johan getuig van die gewonde Reeva wat hy aan die onderkant van die trap in Oscar se huis gekry het, het Oscar en Reeva se niggie Kim Martin begin huil.

'Ek het haar geskiet, ek het gedink sy was ’n inbreker, ek het haar geskiet.'

“Toe ek by die vrou kom, het ’n man langs haar gesit. Hy het gesê: ‘Ek het haar geskiet, ek het gedink sy was ’n inbreker, ek het haar geskiet.’ ”

Die trane het veral geloop toe Johan getuig het hoe Oscar heeltyd by Reeva gesit en huil het.

“Oscar het vir my gesê: ‘Asseblief laat haar lewe, moet haar asseblief nie laat doodgaan nie.’ ”

Ná ’n rukkie het Oscar sy trane afgevee, regop gesit en verder na Johan se getuienis geluister.

Johan woon skuins agter Oscar in die Silver Woods-landgoed. Sy slaapkamer kyk uit op Oscar se

badkamervenster. Die aand van Reeva se moord het hy en sy vrou met hul twee balkonne, wat op Oscar se huis uitkyk, oop geslaap.

Hy het getuig hoe hy op Valentynsoggend wakker geword het van drie skote wat klap.

“My vrou het gevra wat dit was. Ek het gesê ek dink dit is geweerskote,” het Johan getuig.

Hy het opgestaan en op sy balkon gaan staan, waar hy ’n vrou hoor skree het. Johan het weer in die huis gegaan en eers die landgoed se sekuriteit en toe die polisie gebel. Daar was nie by een van die twee antwoord nie. Hy het weer die sekuriteit gebel.

Johan het weer uitgegaan op die balkon en weer drie harde geluide gehoor.

“Ek het vir my vrou gesê om weg te kom van die venster, want die persoon het weer begin skiet.”

Johan het toe ’n man gehoor wat drie keer om hulp skree.

Oscar se badkamerlig was aan.

Die sekuriteit het by Johan se huis aangekom en hy het gesê hy dink hulle moet ondersoek gaan instel omdat hy skote gehoor het.

Johan het klere aangetrek en saam met sy vrou besluit om te gaan kyk wat aangaan; omdat hy ’n dokter is, het hy gedink hy kon dalk van hulp wees. Toe hy by die huis kom, het hy Reeva aan die onderkant van die trap aangetref, met Oscar wat langs haar sit en die bloeding probeer keer.

Die saak hervat ná middagete.

- Hilda Fourie