Die hof het vir die eerste dag van die Oscar Pistorius-verhoor om 15:45 verdaag.

Die Staat se eerste getuie, dr. Michelle Burger, is steeds in die getuiebank.

Die Staat sal haar môre herondervra nadat sy vanmiddag deur adv. Barry Roux SC, vir die verdediging, kruisondervra is.

Burger is 'n dosent aan die Universiteit van Pretoria se departement konstruksie-ekonomie en het gevra dat haar gesig nie vir TV-uitsendings verfilm word nie.

Sy woon op die Silverstreams-landgoed, wat langs die Silver Woods-landgoed geleë is. Pistorius het Steenkamp in sy huis op die Silver Woods-landgoed geskiet.

Die hof het gehoor dat Burger nie bewus was dat haar huis so naby Pistorius s’n is nie.

Sy het dit eers besef toe ’n fotograaf op haar balkon foto’s van Pistorius se huis kom neem.

Burger het deurentyd volgehou dat sy ’n vrou se benoude gille in ’n huis naby hare gehoor het.

Pistorius se prokureur, Barry Roux, het Burger gevra of sy nie dalk Pistorius se gille vir Steenkamp s’n aangehoor het nie.

Sy het geantwoord dat sy nie weet hoe Pistorius se gille klink nie, maar sy is seker dat die benoude gille wat sy gehoor het ’n vrouestem was.

Die hof het gehoor dat Burger ook ’n manstem gehoor gil het, maar dit was die “vrees in haar (Steenkamp se) stem wat haar laat skrik het”.

Regter Thokozile Masipa het die verrigtinge na 09:30 Dinsdagoggend verdaag.

- Herman Scholtz; SAPA

[caption id="attachment_69212" align="alignnone" width="600"]Foto: Herman Verwey/Media24 Foto: Herman Verwey/Media24[/caption]

[caption id="attachment_69211" align="alignnone" width="600"]Foto: Herman Verwey/Media24 Foto: Herman Verwey/Media24[/caption]

[caption id="attachment_69210" align="alignnone" width="600"]Foto: Herman Verwey/Media24 Foto: Herman Verwey/Media24[/caption]

?