Die kopskoot wat Reeva Steenkamp gekry het, sou haar byna dadelik onbekwaam gemaak het om enigiets te kon doen.

En ná die kopskoot het sy waarskynlik net ’n paar keer asemgehaal voor sy dood is.

Dit was vanmiddag prof. Gert Saayman se getuienis tydens Oscar Pistorius se moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria.

Saayman is die patoloog wat die nadoodse ondersoek op Reeva gedoen het nadat Oscar haar op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in die Silver Woods-landgoed doodgeskiet het.

Terwy Saayman getuig het, het Oscar hoorbaar in die beskuldigdebank gehuil en in ’n emmer gebraak.

Hy het getuig dat Reeva dood is weens verskeie skietwonde. Sy is in die voorkop, regterheup en -arm getref.

Hy het gesê die skoot in die heup sou haar laat val het. Hoewel daar ’n moontlikheid bestaan dat die skote in die heup en arm haar dood kon veroorsaak, was dit na alle waarskynlikheid eerder die kopskoot waaraan sy dood is. Dié koeël het haar brein binnegedring.

Ná dié skoot het Reeva waarskynlik haar bewussyn verloor en sou sy nie in staat wees tot enige willekeurige bewegings nie. Sy is waarskynlik kort na die skoot dood.

Saayman sal môreoggend verder getuig.