Oscar gaan waarskynlik nie die verdediging se eerste getuie wees op dag 17 van die moordsaak nie, het sy prokureurs Dinsdag gesê.

Brian Webber, wat deel van Oscar se regspan is, het gesê die patoloog Jan Botha sal waarskynlik die eerste getuie wees. “Hy (Jan) het persoonlike redes waarom hy eerste wil getuig,” het Brian gesê.

Oscar word verhoor vir die moord op die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur by sy huis in Pretoria geskiet. Hy beweer het hy gedink sy is ’n inbreker.

Die staat voer aan dit was moord met voorbedagte rade. Die staat het hul saak op 25 Maart gesluit nadat hulle in 15 dae 21 getuies uit ’n lys van 107 geroep het. Onder hulle was Oscar se eksmeisie Samantha Taylor, sy vriende en verskeie bure.

Oscar het forensiese kenners gehuur om te beskryf wat in die vroeë oggendure op Valentynsdag verlede jaar in sy huis gebeur het.

Kelly Phelps, ’n regsdosent by die Universiteit van Kaapstad, het vroeër aan Sapa gesê Oscar moes getuig om te bewys hy het gedink Reeva was ’n inbreker. Prof. Stephen Tuson van die regskool by Wits sê Oscar sou die risiko loop om skuldig bevind te word as hy nie getuig nie.

“As hy getuig, moet hy eerste getuig om die beskuldiging te vermy dat hy sy getuienis aangepas het,” sê Stephen.

“Die verdediging wil nie hê die staat moet sê die beskuldigde se getuienis is aangepas om te pas by dié van die getuies nie.”

Die saak het op 3 Maart in die hooggeregshof in Pretoria begin en is op 28 Maart uitgestel nadat een van die regter se assessore siek geraak het.