Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Woensdag gehoor dat hy vir psigiatriese waarneming gestuur gaan word nadat die hooggeregshof in Pretoria gehoor het hy ly aan algemene angssteuring (GAD).

Die aanklaer, Gerrie Nel, het Dinsdag die aansoek oorhandig en het gesê die tydsberekening van die forensiese sielkundige dr. Meryll Vorster is belangrik. Sy het Oscar op 2 en 7 Mei geëvalueer.

Barry Roux, SC, vir Oscar, het die aansoek teengestaan.

Regt. Thokozile Masipa het gesê dat Oscar vir pisiatriese evaluering verwys word om seker te maak hy kry ’n billike verhoor. Sy sal haar haar spesifieke bevel daaroor volgende Dinsdag lewer. Sy sal dan onder meer die voorwaardes van die evaluering aandui - byvoorbeeld of hy 'n binne- of buite-pasiënt sal wees.

Die Staat en die Verdediging kan ook voor dan nog voorleggings aan haar doen oor wat die evaluering moet behels. Beide Gerrie en Barry sal ook voorstelle maak oor wie op die paneel moet wees wat Oscar moet evalueer.

Oscar, wat regop gestaan het terwyl Masipa haar uitspraak gelewer het, het nie veel emosie gewys toe Masipa sê hy moet vir psigiatriese waarneming gaan nie.