Na aanleiding van argumente deur die staat en verdediging het die regter gesê sy is nie oortuig dat borgtog teruggetrek moet word nie. Sy beskou Oscar nie as ’n vlugrisiko nie en sy borgtog is tot vonnisoplegging verleng.

Die datum vir vonnisoplegging is vir Maandag 13 Oktober bepaal.

“Bewysmateriaal voor hierdie hof toon dat die beskuldigde nalatig opgetree het toe hy op die toiletdeur afvuur met die wete dat daar iemand agter die deur was,” het sy gesê.

“Dit kan nie gesê word dat die beskuldigde nie eerlik geglo het daar was ’n inbreker in die toilet wat ’n bedreiging vir hom ingehou het nie.

“Dit kan nie gesê word nie dat hy voorsien het dat die oorledene of iemand anders sou sterf as hy op die deur geskiet het nie.”

Hy is ook vrygespreek op die aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en een van die aanklagte van die onwettige afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek.

Maar hy is wel skuldig bevind van die onwettige afvuur van ’n vuurwapen in Januarie verlede jaar in die restaurant Tasha’s in Melrose Arch, Johannesburg.

- Sapa