So het prof. Merryll Vorster, ’n forensiese psigiater, vanoggend tydens Oscar se moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria getuig.

Merryll het ’n verslag vir die hof opgestel ná onderhoude met Oscar, sy familie en vriende.

Volgens Merryll het die angs al begin toe sy bene net voor sy eerste verjaarsdag geamputeer is.

“Die amputasie van sy bene was vir hom baie traumaties omdat hy nie die pyn kon beskryf of kon verstaan hoekom dit met gebeur hom nie,” het Merryll getuig.

Ander faktore wat tot sy angs gelei het, was sy ouers se egskeiding, sy ma wat paranoïes was oor veiligheid en alkohol misbruik het, die feit dat hy op skool gespot was omdat hy nie bene gehad het nie en die dood van sy ma toe hy 15 jaar oud was.

“Oscar was nooit toegelaat om homself as gestremd te sien nie en dit kon tot angs gelei het,” het Merryll getuig.

“Na my mening het Mnr. Pistorius ’n angsafwyking.

“Mense met angsafwykings probeer baie hard om hul omgewings en lewe te beheer. Sy oefening en die eet het gehelp, maar die blootstelling aan die media het beteken mnr. Pistorius moes harder werk om verleentheid te vermy.

“Mnr. Pistorius se pogings om onafhanklikheid deur borge en finansiële sekuriteit te kry, was sy manier om sy angs te hanteer.”

Die staatsaanklaer, Gerrie Nel, wou tydens kruisondervraging by Merryll weet of dié afwyking ’n impak kon hê op Oscar se vermoë om tussen reg en verkeerd kon onderskei.

Merryll het gesê dit kon nie, maar dat daar faktore is wat gelei het tot die rede vir sy optrede toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodskiet.

Gerrie het gesê nog iets waarmee hy ’n probleem het, is dat die strafproseswet vereis dat ’n persoon met ’n afwyking vir psigiatriese evaluering opgeneem moet word as hulle van moord aangekla word. Merryll het gesê dit is vir die hof om te besluit.

Die saak duur voort.

- Hilda Fourie