Regter Thokozile Masipa het pas in die Pretoriase hooggeregshof die moordveroordeelde atleet Oscar Pistorius tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Dit volg ná die appèlhof in Bloemfontein op 3 Desember verlede jaar bepaal het dat die lemnaeler weer gevonnis word nadat dit Thokozile se bevindinge herroep het dat hy aan strafbare manslag skuldig was. Dit het die uitspraak na moord verander. Tydens vonnisoplegging het Thokozile gesê die samelewing verwag dat geregtigheid moet geskied, maar dat ’n vonnis billik moet wees. Sy het ook gesê dat daar, volgens haar, nie genoegsame bewyse was van ’n argument tussen Oscar en Reeva nie en dat sy die gerugte daarvan nie in ag neem nie.

Sy het ook bevind dat Oscar genoegsame berou vir sy dade getoon het, en daarom voel sy haar vonnis is regverdig.
Gebasseer hierop het Thokozile gevoel daar is genoeg rede dat sy afwyk van die staat se voorgestelde vonnis van 15 jaar wat gewoonlik aan ’n moordveroordeelde gegee word. Versagtende omstandighede weeg in hierdie geval swaarder as verswarende omstandighede, het sy gesê.
Thokozile het dit ook duidelik gemaak deur verskeie regsprake aan te haal dat howe daarteen moet waak om uitsprake te lewer bloot om die publiek te vrede te stel.

Volgens die regter is Oscar die ideale kandidaat vir rehabilitasie, maar dat sy ook in ag moet neem dat moord, soos bepaal deur die appèlhof, ’n meer ernstige oortreding is as strafbare manslag. Die onus lê nou by die hof om te bepaal, gegewe die veranderende omstandighede, of ’n vonnis van gevangennisstraf of huisarres gepas is. "(Oscar) is ook ’n gebroke man," het Thokozile gesê. "Sy loopbaan is verby en hy is finansieel verwoes." Daarom het sy besluit om hom tot ses jaar gevangenisstraf te vonnis.