Die naam daarvan is bloot Oscar Pistorius: The Interview, maar dié onderhoud wat eersdaags op Brittanje se ITV-kanaal uitgesaai gaan word, is die gonsbrokkie van die dag. Dit sal die lemnaeler Oscar Pistorius se eerste televisie-onderhoud wees sedert hy sy meisie, Reeva Steenkamp, se dood op 14 Februarie 2013 veroorsaak het. Volgens ITV gaan Oscar in die dokumentêr, wat 24 Junie uitgesaai gaan word, sy weergawe van daardie noodlottige aand vertel. Ook sy verhouding met Reeva, die bewerings van swak gedrag en sy toentertydse gebruik van vuurwapens sal glo bespreek word.

John Maytham van die geselsradiostasie CapeTalk het aan William Bird van Media Monitoring Africa gevra hoe hy oor die beeldsending van so ’n onderhoud met Oscar voel.

“Dit klink ’n bietjie na ’n weergawe van emosionele pornografie. Dis betreklik sappig en dit is nie duidelik of daar enige openbare belang is om dit wel te doen nie.”

ITV het ook aangedui dat Reeva se ouers gevra was om deel van die program te wees, maar hulle het geweier.

Intussen het dit behoorlik op sosiale media gegons oor die moontlikheid dat die Pistorius-familie geld aanvaar het vir die onderhoud. In ’n verklaring, uitgereik op versoek van Oscar se oom, Arnold Pistorius, word dit ten sterkste ontken. “Nie Oscar, of die Pistorius-familie, sal enige geld uit hierdie dokumentêr maak nie. Enige (moontlike) opbrengste sal aan liefdadigheidsorganisasies vir kinders gaan,” lui die verklaring. Verder word daar ook genoem dat die familie deurentyd respek vir die regsproses gehandhaaf het en daarteen gewaak het om nie deur die mediawaansin (“frenzy”) meegevoer te word nie. Die verklaring verduidelik ook dat hul aanvanklike stilswye ’n vrugbare teelaarde kon help skep vir onakkuraatheid en ongegronde gissings wat in die media en openbare platforms floreer het.

“Ons het feitlik alle versoeke om onderhoude en kommentaar geweier,” lui die mediavrystelling voorts.
“Ten spyte van die talle, talle versoeke wêreldwyd vir onderhoude met Oscar – gewoonlik gepaardgaande met groot finansiële aansporing – het ons konstant volhard met ons posisie dat daar geen onderhoud, of mediabetrokkenheid, tot Oscar se finansiële voordeel sou wees nie. In die vrystelling word die kwessie van tydsberekening tussen Oscar se vonnisoplegging en die beeldsending van die onderhoud ook aangespreek.
Die onsekerheid oor waar Oscar hom na afloop van sy vonnisoplegging mag bevind, het Arnold glo genoop om die onderhoud toe te staan “Ek het gevoel sy platform (Mark Williams-Thomas) op ITV was die mees geskikte plek daarvoor – vanweë die styl en formaat,” lui die vrystelling. Mark Williams-Thomas het reeds in 2014 ’n raar onderhoud met Oscar gevoer.
Hy het toe reeds sterk aan Oscar se onskuld geglo.

Oscar se vonnisoplegging begin op 13 Junie.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nike staan bankvas agter Maria Sharapova

EKSKLUSIEF: ’n Groot gunsteling verlaat die Laan

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .