Al kon die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius soos vroeër beweer maklik op sy stompies val, het hy rondbeweeg en vier skote afgevuur toe hy Reeva Steenkamp geskiet het, het die hooggeregshof in Pretoria Maandag gehoor.

“Jy sê hy val gereeld. Weet jy hy het daardie aand nooit geval nie? Het jy hom nie gevra wat daardie aand gebeur het nie?” het die aanklaer Gerrie Nel gevra aan Oscar se ortopediese chirurg, dr. Gerry Versfeld.

Dr. Versfeld het op Oscar geopereer toe hy ’n kind was.

“Die ongelooflikste van alles is dat hy van sy slaapkamer met ’n pistool in die hand na die badkamer geloop het. Hy het vier skote afgevuur; hy was op sy stompies en dit was donker.”

Dr. Versfeld het tydens sy getuienis die hof vertel dat Oscar het beperkte beweeglikheid op sy stompies en het lig nodig om te rondbeweeg. As dit donker was, sou hy aan iets moes vashou.

Oscar staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het. Hy het haar deur ’n geslote badkamerdeur geskiet en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Nadat hy die skote afgevuur het, het hy die deur met ’n krieketkolf oopgeslaan om by ’n sterwende Reeva uit te kom.

Volgens dr. Versfeld het Oscar nooit aan hom die besonderhede van die voorval verduidelik nie. Hy het gesê Oscar het vertel hy val gereeld en dat ’n hond hom selfs omgestamp het.

Maandag het dr. Versfeld aan regt. Thokozile Masipa gedemonstreer hoe moeilik Oscar beweeg het weens sagte weefsel onder die atleet se stompies wat maklik gly. Dit het draai of hardloop moeilik gemaak, want hy moes versigtig beweeg sodat hy net druk op die sagte weefsel plaas om pyn te vermy.

Dr. Versfeld sê dit was onwaarskynlik dat Oscar op sy stompies was toe hy die toiletdeur oopbreek; hy het gesê die atleet sou nie genoeg balans gehad het nie.