Sou Reeva wou hê Oscar moet tronk toe gaan?

So het dié voormalige Olimpiese en Paralimpiese held in sy eerste televisieonderhoud sedert Reeva se dood op Valentynsdag drie jaar gelede gesê, berig The Guardian. Tydens die onderhoud het Oscar plek-plek gehuil terwyl hy vertel wat in daardie oggendure gebeur het.

Dié onderhoud, met Mark Williams-Thomas van ITV, word op Vrydagaand 24 Junie om 22:55 op M-Net uitgesaai.

Op 6 Julie sal regter Thokozile Masipa Oscar na verwagting weer in die hooggeregshof in Pretoria vonnis nadat die appèlhof in Bloemfontein beslis het hy is skuldig aan moord en nie strafbare manslag, soos Masipa vroeër bevind het, nie.

Lees ook: Oscar Pistorius: ‘Asseblief, God, moenie dat dit waar wees nie’

Tydens die onderhoud, berig The Guardian, het Oscar gehou by sy weergawe dat hy daardie oggend regtig geglo het daar is ’n inbreker in sy huis. Hy het sy weergawe weergegee soos hy dit tydens sy aanvanklike verhoor in die hooggeregshof vertel het.

Hy voer aan nadat hy die skote afgevuur het en terug kamer toe is, het hy ’n nagmerrie-oomblik beleef toe hy besef Reeva is nie meer in die bed nie. Hy het ’n oomblik lank kalm gevoel toe hy gedink het sy kruip op die vloer weg, maar hy kon haar ook nie daar opspoor nie.

“Ek het begin om alles uitmekaar te ruk en te sê: ‘Reeva Reeva, Reeva . . .’ Ek het oor die gordyn gevoel . . . en gedink: ‘Here, laat sy asseblief net agter die gordyn wegkruip.’ Toe ek by die laaste gordyn kom, het my moed in my skoene gesak.”

Lees ook: Kyk so na Oscar Pistorius se eerste TV-onderhoud ná Reeva se dood

Oscar is terug na die badkamer, waar hy die deur met die krieketkolf oopgeslaan het.

“Al wat ek kon sien, was bloed. Daar was oral bloed. So baie bloed. Ek het haar probeer optel. Ek het haar probeer optel, maar daar was so baie bloed, ek kan nie regop staan nie. Ek het gedink Reeva het weer begin asemhaal. Ek het my vingers in haar mond gesit en mond-tot-mond-asemhaling probeer toepas, maar daar was so baie bloed.”

Volgens The Guardian het Oscar tydens die onderhoud gesê hy verdien ’n lang tronkstraf vir Reeva se dood, maar hy hou vol haar dood was nie voorafbeplan nie en dat hy haar nie vermoor het nie.

Hy sê hy kan nie saamstem met dié wat voel hy moet gestraf word nie.

“Soms voel dit of ek nie die reg het om te leef nie nadat ek iemand se lewe geneem het. Dis moeilik om saam te leef met die aanklag van moord,” het Oscar gesê.

Oscar wil nie sy lewe agter tralies “vermors” nie. “As ek die kans kon kry, sou ek weer soos vroeër minderbevoorregtes wou help. Ek wil glo as Reeva kon afkyk op my, sou sy nie wou hê ek moet so leef nie.”

Bronne: The Guardiam; Daily Mail