Oscar Pistorius oorweeg regstappe ná wilde bewerings deur 'n Oostenrykse vrou in die Duitse koerant, Bild, dat sy en "Oscar" glo maande lank oor WhatsApp en Instagram geflankeer het. En dít terwyl hy verhoorafwagtend was vir die skietdood van sy meisie Reeva Steenkamp.

Bild berig dat die vrou, slegs bekend as Nina F. (30), oor die internet verlief geraak het op 'n man wat in Suid-Afrika woon - al het sy hom nog nooit in persoon ontmoet nie.

Die man, na bewering Oscar, het hom as ‘Liam' voorgedoen en die twee het talle WhatsApp-boodskappe uitgeruil en selfs telefonies gesels in die maande tussen Reeva Steenkamp se skietdood en sy uiteindelike skuldigbevinding aan strafbare manslag. Hy het haar glo ook gevra om te trou.

Maar elke keer as Nina F. voorgestel het sy wil na Suid-Afrika vlieg, het ‘Liam’ glo die onderwerp verander.

Sy vertel ook dat 'Liam' altyd van 'n voorafbetaalde selfoonnommer gebel en boodskappe gestuur het. Hy sou ook elke dan en wan sy nommer verander. Volgens Daily Mail het die man eers tien dae voor Oscar skuldig bevind is aan strafbare manslag sy 'regte identiteit' aan haar bekend gemaak. Bild het ook 'n foto van 'n glimlaggende Oscar as deel van die beweerde Whatsapp-gesprekke gepubliseer.

Hy het glo ook die dag met Oscar se vonnisoplegging van vyf jaar haar in Oostenryk gebel en baie gehuil waarna hy glo alle kontak met haar verbreek het.

Lees ook: Oscar Pistorius skuldig aan moord

Nina F. vertel verder hoe sy Pretoria toe gevlieg en by Oscar se oom Arnold Pistorius se huis, waar hy onder huisarres gehou word, gaan aanklop het. Die sekuriteitswagte het geweier dat sy hom sien, daarom het sy 'n brief vir hom gelos en gevra dat hy haar weer moet kontak.

Volgens Nina het Oscar nooit op haar brief gereageer nie.

Anneliese Burgess, die Pistorius-familie se woordvoerder, het bevestig dat hierdie storie van alle waarheid ontbloot is. "Dit is nie die eerste keer dat ons te doen kry met hierdie tipe skinderblad-versinsel nie. Ons ken nie hierdie persoon nie en ons weet nie hoe hierdie sogenaamde interaksie geskep is nie."

Sy het bevestig dat Oscar ook nie ’n voorafbetaalde selfoonnommer het nie. "Ons sal stappe neem om agter die kap van die byl te probeer kom, maar op die oomblik maak hierdie aantygings geen sin nie. Ons oorweeg ook regstappe."

Bronne: Bild; Daily Mail