Nadat advokaat Gerrie Nel en advokaat Barry Roux hul redes gegee het waarom Oscar Pistorius onderskeidelik aan moord skuldig bevind moet word en waarom nie, het regter Lex Mpati, president van die Appèlhof in Suid-Afrika, die saak verdaag.

Mpati het uitspraak voorbehou.

Dit is onseker wanneer die uitspraak gelewer sal word.

Roux het gesê dit is onregverdig om Pistorius te beoordeel soos 'n gewone mens - hy het nie bene nie. En toe hy daardie oggend van 14 Februarie 2013 in die badkamer instap en die oop venster sien en die geluide hoor, was hy bang, regtig bang.

"Hy het geglo Reeva is in die kamer en het toe geskiet."

Nel het gesê Oscar het geweet toe hy die skote op die deur afvuur, dat iemand kon sterf. Maak nie saak wie die persoon is wat agter die deur is nie.

- Hilda van Dyk