Sy familie het ook eers die naweek uitgevind Oscar Pistorius is na ’n nuwe tronk verskuif, vertel Johan van Wyk, die Pistorius-familie se woordvoerder.

Die familie het dit nie versoek nie, voeg hy ook by.

Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat die voormalige Olimpiese atleet nou in ’n nuwe sel tuisgaan in die Atteridgeville korrektiewe fasiliteit. Hierdie fasiliteit vorm wel steeds deel van die Kgosi Mampuru II-bestuurarea in Pretoria. Sy nuwe sel bevat ook ’n bad.

“Mnr. Pistorius is verskuif bloot weens sy aansoek wat volgens die wet en prosedures oorweeg is en ná deeglike oorweging goedgekeur is,” verduidelik Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste.

“Ons mandaat is om te verseker dat gevangenisstraf veilige aanhouding beteken onder menslike omstandighede,” sê Singabakho.

Die lemnaeler dien tronkstraf van ses jaar uit nadat hy sy vriendin Reeva Steenkamp op Valentynsdag 2013 doodgeskiet het.

"Ek hoop sy nuwe blyplek is vir hom beter, en dat die fasiliteite wat dit hom bied hom sal besig hou," het sy oom Arnold Pistorius aan die Sunday Times gesê. Huisgenoot kon Arnold nie self bereik nie, want hy is tans uit op ’n jagekspedisie.

"In Kgosi Mampuru II (waar Oscar tot dusver aangehou was) was hy toegesluit vir tot agttien ure per dag. Ek kan nie dink dit was vir hom lekker nie," het Arnold verder aan die Sondagkoerant gesê.

"Hy het ’n behoefte daaraan om besig te bly; byvoorbeeld om in landerye te werk."

In reaksie het Singabakho gesê die "departement is nie daarvan bewus dat gevangenes in Kgosi Mampuru II vir agtien uur ’n dag toegesluit word nie".

Oortreders moet vir ses jaar of minder gevonnis wees om in aanmerking te kom on na Atteridgeville geskuif te word. By hierdie fasiliteit word daar baie meer gefokus op rehabilitasie as by Kgosi Mampuru II. Dis glo ook meer vriendelik teenoor gevangenes met liggaamlike uitdagings, soos Oscar.

"Die plek waar hy aangehou word, is nie belangrik nie," voeg Johan wel by. "Oscar se doel van dag tot dag is om die meeste van sy tyd in die gevangenis te maak."

Intussen het die appèlhof in Bloemfontein nog nie ’n datum bekend gemaak om die staat se appèlsaak teen Oscar se vonnis van ses jaar aan te hoor nie.