Dit is intussen deur die departement van korrektiewe dienste bevestig dat Oscar Donderdagnag in die hospitaal sal deurbring vir waarneming. 'n Bron na aan die familie het gesê "dit lyk of alles in orde is".

Vroeër vandag

Dieselfde bron het Donderdagmiddag aan Huisgenoot.com bevestig Oscar word steeds hier in die ongevalle-eenheid behandel en sy familie mag hom nie besoek nie. Hulle is ook nie daarvan ingelig nie.

Die gemeenskapskoerant Rekord East het Donderdag oor die verwikkeling berig. 

Singabakho Nxumalo, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het Donderdag aan Huisgenoot.com bevestig Oscar is deur DKD-beamptes na die hospitaal gebring, maar kon nie dadelik bevestig hoekom hy hospitaal toe is nie.

“Ek sal nou nie sê hy is soontoe gejaag nie . . . ” Singabakho het gevra vir meer tyd om die besonderhede vas te stel.

Oscar se broer, Carl, en oom Arnold het nie daarvan geweet toe Huisgenoot hulle Donderdagmiddag bel nie. Carl het geskok gesê: “Verlede week moes ons hoor hy het ‘selfdood gepleeg’, nou dít.”

Oscar was 6 Julie vanjaar reeds ’n jaar agter tralies vir die moord op sy modelmeisie, Reeva Steenkamp.

Hy is in November 2016 oorgeplaas van die Kgosi Mampuru II-gevangenis na die Atteridgeville-tronk, ook in Pretoria.

Logan Maistry, adjunkkommissaris van kommunikasie van die departement van korrektiewe dienste, het toe aan Huisgenoot gesê dit gaan goed met Oscar (30) onder die omstandighede en hy pas goed aan by die rehabilitasieprogram.

Hy het bevestig Oscar kan binne twee jaar in aanmerking kom vir parool, maar dit is nog nie vasgestel nie.

Oscar is tot ses jaar tronkstraf gevonnis ná die opspraakwekkende moord op Reeva (29), toe hy haar op Valentynsdag in 2013 deur sy badkamerdeur doodgeskiet het. Hy het aangevoer hy het haar vir ’n indringer aangesien.

Bykomende bron: Rekord East