Só het hy vanoggend, tydens sy vyfde dag in die getuiebank, gesê.

Adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, het Oscar gevra hoekom hy foute maak, want as dit nie is dat hy weens moegheid foute maak nie, is hy besig om te lieg.

Dit het op die punt gekom waar regter Thokozile Masipa Nel in die rede geval het.

"Mnr. Pistorius, dit is belangrik dat jy reg moet wees in die getuiebank. As jy foute maak omdat jy moeg is, moet jy so sê," het Masipa gesê.

"Maak jy foute omdat jy moeg is?"

Oscar het gesê hy is moeg en dat dit nie gaan verander nie, maar dat die foute nie is weens die moegheid nie.

Die fout waarna hulle verwys was rakende die alarmstelsel in Oscar se huis in die Silver Woods-landgoed, in die ooste van Pretoria.

Die aand van sy meisie, Reeva Steenkamp se dood, was die alarm stelsel vir binne en buite aangeskakel. Die alarm het nie deur die loop van die aand of voor die geluide, wat hy gehoor het, afgegaan nie.

Oscar het ook nooit getuig dat hy die alarm afgeskakel het toe hy, ná hy vir Reeva in die toilet gekry het, na die onderste verdieping gehardloop om die voordeur oop te sluit.

Hy het eers gesê hy het die alarm afgeskakel en later dat hy die alarm moes afskakel.

Oscar het gesê sy geheue van sekere dinge is nie so helder nie en daarom maak hy foute.

"Die rede hoekom jy foute maak, is omdat jy besig is om goed toe te smeer. Jy verander jou getuienis," het Nel gesê.

Nel het 'n paar keer deur die loop van die oggend vir Oscar beskuldig dat hy sy getuienis verander.

Nel het tot so ver gegaan om Oscar 'n leuenaar te noem, maar hieroor het regter Thokozile Masipa hom oor die vingers getik. "Jy kan nie 'n getuie 'n leuenaar noem terwyl hy in die getuiebank is nie."

- Hilda Fourie