Sy gestremdheid en die jaar wat hy reeds in die tronk deurgebring het, sal van die faktore wees wat regter Thokozile Masipa kan gebruik om te regverdig dat sy van die minimum van 15 jaar vir moord afwyk, het ’n prokureur wat nie by die saak betrokke is nie gister gesê.
“My gevoel is dat hy 10 jaar sal kry,” het adv. Marius du Toit gesê.
Op 3 Desember verlede jaar het die appèlhof gelas dat die voormalige paralimpiese atleet weer gevonnis word nadat dit Thokozile se bevindinge herroep het dat hy aan strafbare manslag skuldig was. Dit het die uitspraak na moord verander.
Tydens vonnisverrigtinge in Junie het die aanklaer Gerrie Nel Thokozile gevra om Oscar minstens 15 jaar tronk toe te stuur, want hy het Reeva met opset vermoor. Hy het gesê Oscar het steeds geen berou getoon dat hy die model en regsgeleerde op 14 Februarie 2013 vermoor het nie. Hy het nie die hof in sy vertroue geneem en die redes bekend gemaak waarom hy die vier skote afgevuur het wat haar dood gekos het nie. Pleks daarvan het hy ’n onderhoud aan die nuusuitsaaier ITV toegestaan. Gerrie het gesê dit is oneerbiedig teenoor die hof en die Steenkamps.
Barry Roux, vir Oscar, het gesê hy is ’n kwesbare man met ’n angssteurnis, en is net 1,50 m lank as hy op sy stompies staan. Oscar het gekonfronteer wat hy geglo het ’n inbreker was wat in sy donker badkamer wegkruip, drieuur die oggend op daardie dag in Februarie, het Barry op 15 Junie gesê.

Thokozile het ook toestemming gegee dat ses foto’s wat op die misdaadtoneel van Reeva geneem is gepubliseer kon word. Gerrie het die versoek gerig nadat Barry Steenkamp getuig het hy wil hê die wêreld moet sien wat Oscar aan sy dogter gedoen het. Hy het gesê hy hoop dit soortgelyke misdade voorkom.

Volg Oscar Pistorius se vonnisoplegging regstreeks hier:

Bron: News24