Volgens haar het Oscar Pistorius glo vir haar persoonlike Twitter-boodskappe gestuur terwyl sy moordverhoor in 2014 aan die gang was. In ’n paneelbespreking oor vroue wat op reeksmoordenaars verlief raak op ’n Britse kletsprogram, Loose Women, het die voormalige bladsydrie-meisie onthul die Paralimpiese atleet – wat in 2014 vir die moord op sy modelmeisie Reeva Steenkamp tereggestaan het – het vir haar direkte boodskappe gestuur om haar vir “haar steun” te bedank.

“Die menslike brein en wat mense dryf om te moor, boei my geweldig. My absolute droomwerk is om met reeksmoordenaars te gesels en uit te vind wat in hul kop aangaan,” het Katie gesê voor sy bevestig het die lemnaeler het haar tydens sy opspraakwekkende verhoor in die Pretoriase hooggeregshof gekontak.

“Ja, hy het vir my boodskappe gestuur tydens die verhoor; dit was voor die uitspraak en toe daar nog intense mediadekking was. Dit het ’n punt bereik waar ek besluit het ek wil nie heen en weer boodskappe stuur nie, want ek wou nie ’n grens oorsteek en tweerigtingkommunikasie hê nie.

“Ek het oor hom geskryf in ’n tydskrifrubriek en dit is waar dit begin het,” het die voormalige werklikheidstelevisiester wat al drie keer getroud was, gesê. “Hy het my bedank en ek het gewonder of dit regtig hy kon wees. My broer het vir my gesê ek moet my boodskappe nagaan en ek kon toe sien dit het van sy regte Twitter-rekening gekom.”

Sy was nie bevooroordeeld in haar rubriek nie, meen Katie, en het net geskryf mense moenie oordeel nie en vir die hof die kans moet gun om oor Oscar se lot te beslis.

“Die Pistorius-familie reageer in beginsel nie op hierdie tipe poniekoerant-stories nie. Dit is heeltemal doelloos en dien geen doel nie,” het Anneliese Burgess die familiewoordvoerder by navraag aan Huisgenoot gesê.

Regter Thokozile Masipa het Oscar eindelik aan strafbare manslag skuldig bevind, maar die appèlhof in Bloemfontein het die uitspraak einde verlede jaar verwerp en gesê die lemnaeler is skuldig aan moord. Hy sal weer op 13 Junie in die Pretoriase hooggeregshof verskyn waar sy vonnisoplegging sal voortgaan.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Marco Spaumer verklap wat deur Tim se kop gegaan het tydens daai skokkende Suidooster-oomblik

Die folky Majozi eersdaags op die Liefde by die Dam-verhoog

Omgekrapte vrou vermorsel peperduur Jaguar met haar peperduur Range Rover

Kyk net wat gebeur as vier mans hoëhakskoene ’n dag lank dra!