Tydens haar uur lange uitspraak het regter Masipa dit duidelik gemaak sy het talle faktore in ag geneem voor sy op ’n geskikte vonnis vir Oscar besluit het. Masipa het verrigtinge in die stampvol Pretoriase hooggeregshof begin deur te sê “al wat nou oorbly is vir hierdie hof om ’n geskikte vonnis op te lê. Ek moet oorweeg wat in belang van die samelewing sal wees, asook wat die impak op die beskuldigde sal wees.”

Omstandighede

Tydens haar uitspraak het Masipa dit duidelik gestel dat verswarende omstandighede wat die staat aangevoer het, nie in haar oë onomwonde bewys kon word nie. “Daar was geen bewyse dat Reeva in ’n verhouding was waarin sy mishandel is nie,” het sy gesê.

Volgens Masipa was daar nie bewyse dat Reeva en Oscar in ’n stryery betrokke was op die aand van haar dood nie.

Steenkamp-familie

Masipa het ook gedurende haar uitspraak na Reeva se ouers, June en Barry Steenkamp, verwys.

“Dit is nie verbasend dat die familie steeds, drie jaar ná die oorledene se dood, rou nie,” was haar woorde. Sy het ook verwys na Barry se roerende getuienis in die hof vroeër tydens Oscar se vonnisoplegging.

“Hy ervaar die verlies baie erg; Barry Steenkamp ly, hy vermy mense en praat met sy dogter, al is sy dood,” het Masipa gesê.

Die regter het aangevoer dat die getuienis van Reeva se familie wys dat die beskuldigde se dade baie skade berokken het, maar dat sy ander versagtende omstandighede in ag moet neem tydens haar vonnisoplegging.

Afwyk van minimum vonnis van 15 jaar

Aanpassings aan die Strafproseswet bepaal dat ’n moordbeskuldigde ’n vonnis van 15 jaar opgelê moet word, tensy daar “dwingende getuienis” is om daarvan af te wyk, het Masipa gesê. Dit is toe dat sy verswarende en versagtende omstandighede in die saak begin lys. Eerstens het sy genoem Oscar het nie een nie, maar vier skote na die badkamerdeur afgevuur. “Hy is goed opgelei (in hoëkaliber-vuurwapens) en het nie die nodige voorsorgmaatreëls getref nie,” was haar woorde. Ter versagting voel sy wel dat Oscar ten tyde van die skietery geglo het sy lewe word deur ’n inbreker bedreig. Hy het ook probeer om Reeva te red en was sigbaar getroumatiseer.

Berou

Op die punt dat die staat aangevoer het Oscar toon nie genoegsame berou vir sy dade nie, het Masipa heelhartig van hulle verskil. “Pistorius het vergifnis gevra en hy het probeer om met die oorledene se familie in kontak te kom. Hy het hierdie versoek meer as een keer gerig,” het sy gesê.

“Dit was egter onsuksesvol.”

Masipa het ook die 11 maande wat hy reeds in die tronk deurgebring het en sy gemeenskapswerk wat hy by ’n kerk in Centurion gedoen het, in ag geneem.

Vonnis

“Die lewe van Reeva se familie gaan nooit weer dieselfde wees nie; ook Oscar s’n is verby,” het Masipa na aan die einde van haar oplegging gesê. “Hy is fisiek, emosioneel en finansieel geruïneer.” Volgens die regter het sy geen bewyse gesien dat Oscar ’n “gewelddadige mens” is nie en dat dit onwaarskynlik is dat hy weer die wet gaan oortree. Daarom voel Masipa ’n lang gevangenisstraf sal “geen doel dien” in hierdie geval nie. Dis toe dat Masipa verrigtinge afsluit en sê: “Die vonnis vir die moord op Reeva Steenkamp is gevangenisstraf van ses jaar.”

Daarna is Oscar na die aanhoudingselle by die hof vergesel. Sy suster, Aimeé, het sag gehuil. Die verdediging het aangedui hulle is tevrede met die uitspraak en sal nie appèl aanteken nie.

Die gebeure tot nou

Die Paralimpiese atleet het op 14 Februarie 2013 sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, deur die badkamerdeur van sy spoghuis in Pretoria doodgeskiet.

Oscar is op 12 September skuldig bevind aan strafbare manslag en vir vyf jaar tronk toe gestuur. Die Nasionale Vervolgingsgesag het op 5 November aangevoer regter Masipa se vonnis was te lig en appelleer teen die vonnis vir strafbare manslag om dit na moord oor te skakel – die minimum vonnis vir moord is 15 jaar.

Op 21 Augustus 2015 is Oscar vir 10 maande onder huisarres geplaas. Die hof bevind Oscar het Reeva met opset doodgeskiet en hy word aan moord skuldig bevind. Hy word borgtog van R10 000 toegestaan.

Oscar appelleer teen die vonnis in die konstitusionele hof. Sy appèl word geweier en hy verskyn weer in Junie 2016 in die hooggeregshof in Pretoria om sy lot aan te hoor.

Verskeie getuies het in die hof verskyn om te getuig oor Oscar se geestestoestand. Reeva se pa sou ook vir die eerste keer ’n roerende getuienis lewer en sê hoe hy homself met sy diabetes-naalde steek om Reeva se pyn te voel.

Masipa het al hierdie faktore in ag geneem toe sy vandag haar vonnis uitgedeel het.