Die veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius sal Dinsdag na die hooggeregshof in Pretoria terugkeer vir 'n hofverskyning voordat die formele vonnisoplegging begin.

Oscar word weer gevonnis ná sy skuldigbevinding aan strafbare manslag omgekeer is na 'n skuldigbevinding aan moord.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het verlede week bevestig dat aanklaers in beraadslagings betrokke was sedert die appèlhof in Bloemfontein regter Thokozile Masipa se uitspraak omgekeer het.

Die NVG het gesê hy wil die proses so gou as moontlik afhandel.

Die appèlhof het verlede Donderdag ten gunste van die staat beslis, in teenstelling met regter Masipa se oortuiging dat die lemnaeler aan strafbare manslag skuldig is.

Die eenparige uitspraak van die appèlhof was duidelik: Oscar het gedobbel met die lewe van die persoon agter die toiletdeur toe hy vier skote met 'n swaar-kaliber vuurwapen in 'n klein ruimte geskiet het.

Dit appèlhof het intussen die saak vir vonnisoplegging na die hooggeregshof terugverwys. Oscar se aansoek om borgtog sal ook Dinsdag ter sprake wees.

Die beslissing van die appèlhof volg byna drie jaar nadat Oscar sy meisie Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

Hy het 'n jaar agter tralies deurgebring en is in Oktober vrygelaat waarna hy die res van sy vyf jaar-vonnis onder korrektiewe toesig moes uitdien. Volg Dinsdag se hofverrigtinge regstreeks hier:

Bron: News24