’n Gedenkdiens word Vrydagoggend vir Oscar Pistorius se ouma gehou.

Oscar se geliefde ouma Gerti Pistorius (92) is vroeg Sondagoggend oorlede. Ouma Gerti was Henke, Oscar se pa, en sy ooms Arnold, Theo en Leo se ma.

Die gedenkdiens word Vrydag om 09:00 by Klein-Kaap in Pretoria gehou. “Dit is ’n privaat-geleentheid,” het Johan van Wyk, familiewoordvoerder gesê. Hy het gesê die geleentheid sal deur vriende en familie bygewoon word.

Gerti was saam met haar man, Hendrik (99), ’n inwoner van die Kronendal-aftreeoord in Pretoria.

Volgens Johan is dit nog nie duidelik of Oscar die begrafnis sal kan bywoon nie. "Ons het ’n aansoek ingedien en dit word nou verwerk, maar ek weet nie of dit al goedgekeur is nie," het Johan gister aan Huisgenoot bevestig. Suid-Afrikaanse wetgewing laat gevangenes toe om in uitsonderlike gevalle aansoek te doen dat die departement van korrektiewe dienste hulle na belangrike familiegeleenthede soos begrafnisse vergesel. Oscar word tans in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria angehou. Ouma Gerti se familie het die afgelope week foto's en herinneringe van haar in sosiale media gedeel. “My pragtige en elegante Oumie is oorlede,” het Oscar se suster, Aimee vroeër die week op Twitter geskryf. “Ek sal die oomblikke en herinneringe wat ons gedeel het, liefhê en koester,” het sy getwiet.

Ook Oscar se broer, Carl het hulde gebring aan sy ouma deur sy Facebook-profielfoto te verander na ’n foto van hom en sy ouma.

Hy het ook die hooffoto aan die bo-kant van sy Facebook-profiel na een van Aimee en ouma Gerti verander.

Johan is met Arnold se dogter, Eunice, getroud. Sy het ook hulde gebring aan haar ouma en het Sondag op Facebook geskryf: “93 jaar oud, 74 jaar getroud, 7 kinders, 26 kleinkinders, 33 agterkleinkinders. Met eggenote is haar direkte nageslag 90. Sy het 'n spesiale band met elke liewe een gehad. Sy was 'n ongelooflike vrou. Ek is dankbaar vir die ma wat sy was vir my pappa en die Oumie vir my. 'n Vol lewe. Sy gaan erg gemis word. Ons weet darem ons gaan haar weer sien xx” Aimee het op 3 September haar ouma op Twitter geluk gewens met haar verjaarsdag en mooi foto’s van haar gedeel.

Gerti is Saterdag in die Little Company of Mary in Pretoria opgeneem. Sy is Sondagoggend omstreeks 05:20 oorlede. Netwerk24 het berig baie van Gerti se kleinkinders woon oorsee en wil graag ook die teraardebestelling bywoon.