Prof. Jan Botha, ’n patoloog wat Oscar se regspan se eerste getuie is, het getuig oor sy mening oor Reeva se wonde en die volgorde van die skote.

Terwyl Jan oor Reeva se wonde getuig het, het Oscar sy ore toegedruk, afgekyk grond toe en in ’n emmer by sy voete gebraak.

Nadat adv. Gerrie Nel gevra het vir ’n vroeë teepouse, het Oscar se broer en suster, Carl en Aimee, styf langs Oscar in die beskuldigdebank gaan sit en hom styf vasgehou terwyl hy geruk soos hy gehuil het.

Ná ’n rukkie het Oscar die hof met dikgehuilde oë verlaat.

Jan het getuig hy was nie self teenwoordig by Reeva se nadoodse ondersoek nie, wat deur prof. Gert Saayman uitgevoer is. Hy het wel Gert se verslag bestudeer en na foto’s gekyk.

Hy het getuig Reeva is eers in die heup, toe in die arm en laastens in die kop getref. Hy het gesê as die skote vinnig op mekaar gevolg het, sou Reeva nie tyd gehad het om te skree nie.

Gert het nogal kleigetrap toe Gerrie eers met sy kruisondervraging begin. Die eerste probleem wat hy gehad het, was dat Jan nie in sy ondersoek bepaal het watter wond veroorsaak is deur is watter van die vier skote wat A, B, C en D gemerk is nie. Daarna het Gerrie stap vir stap die toneel vir Jan herkonstrueer en verduidelik hoekom watter merk watter wond veroorsaak het.

“Dit is hoe dit gebeur het, vat dit van my af,” het Gerrie gesê.

Die volgende probleem wat Gerrie gehad het, was dat Jan gesê het daar is nie enige bloedspatsels teen die muur bo die tydskrifrak langs die toilet nie. Gerrie het Jan ’n foto met bloedspatsels teen die muur gewys.

Nog ’n probleem vir Gerrie was dat Jan oor die skote getuig het, maar nie ’n ballistiese kenner is nie. Toe Gerrie Jan oor die skote deur die deur uitvra, het hy self gesê: “Ek weet nie; ek is nie ’n ballistikus nie.”

Gerrie sal ná teetyd met Jan se kruisondervraging voortgaan. As Gerrie betyds met die kruisondervraging klaarmaak, sal Oscar na verwagting in die getuiebank klim om te getuig oor Valentynsdag verlede jaar toe hy Reeva in sy huis in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria doodgeskiet het.

- Hilda Fourie