Die aanklaer Gerrie Nel het gesê Oscar jok en dat hy sy meisie koelbloedig vermoor het, maar Gerrie het nie ’n toegewing uit Oscar gekry dat hy bedoel het om sy 9mm-pistool af te vuur nie. “Sy was toegesluit in die badkamer en jy het jou bewapen met die uitsluitlike doel om haar dood te skiet. Dis wat jy gedoen het,” het Gerrie in die hooggeregshof in Pretoria gesê. Gerrie het sy taai kruisondervraging van Oscar afgesluit deur dit aan die Paralimpiese atleet te stel dat hy verantwoordelikheid moet aanvaar vir die feit dat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

'Ek het geglo my lewe word bedreig.'

“Ek weet nie, U Edele, ek was bang. Ek het geglo my lewe word bedreig,” het Oscar geantwoord.

Gerrie het gevra wie moet dan die blaam vir die voorval dra. Oscar het herhaal hy weet nie, waarop die aanklaer gevra het: “Weereens moet ons jou nie blameer vir die feit dat jy haar geskiet het nie. Moet ons Reeva daarvoor blameer? Sy het nooit vir jou gesê sy gaan toilet toe nie. Moet ons haar blameer? Moet ons die regering blameer? Moet ons die Black Talon-koeëls blameer wat deur haar lyf geskeur het?”

Gerrie het gesê hy gaan vra dat die hof moet bevind Oscar se weergawe van die skietvoorval op Valentynsdag verlede jaar is “so onwaarskynlik dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie”.

Oscar kan ’n lewenslange vonnis vir moord opgelê word, maar het getuig hy was gereed om ’n moontlike oortreder te konfronteer wat agter die geslote toiletdeur in sy huis geskuil het; hy het nie gedink toe hy die skote afvuur wat Reeva in die heup, arm en kop getref het nie.

Onwillekeurige handeling

Gerrie het hierop gesê dit beteken die naelloper het sy verdediging verander “van putatiewe noodweer tot onwillekeurige handeling”. Adv. Barry Roux, Oscar se prokureur, het teruggekeer na die kwessie van opsetlike optrede toe hy sy kliënt kortliks ondervra, en het hom gevra of hy die sneller bewustelik getrek het.
'Ek was oorweldig deur ’n gevoel van vrees en kwesbaarheid.'

Oscar het volgehou: “Die oomblik toe ek die geluid hoor, het ek die sneller getrek voor ek kon dink. Ek was oorweldig deur ’n gevoel van vrees en kwesbaarheid.”

Hy het aan Gerrie gesê die paniek is veroorsaak deur die geluid van ’n houtvoorwerp wat beweeg. Hy het gedink dis die deur wat oopgaan, maar later besef dit kon net die tydskrifrak in die toilet gewees het.

Maar Gerrie hou vol Oscar het nie net met opset geskiet nie, maar ook van skootrigting verander om seker te maak hy tref Reeva nadat sy agtertoe op die tydskrifrak geval het, wat haar posisie agter die deur verraai het.

Oscar het ontken dat Reeva op die tydskrifrak geval het, en aangevoer dat die polisie dit agterna geskuif het – ’n herhalende tema in sy getuienis.

Gerrie het egter gesê dis net nog ’n geval van Oscar wat sy getuienis aanpas. “Die tydskrifrak het nooit geskuif nie. Dis waar sy geval het, met haar kop op die toilet,” het Gerrie tydens kruisondervraging aan Oscar gesê. “Dit raak ál onwaarskynliker en jy verander ál meer aan jou storie.” Hy het Oscar Dinsdag gevra hoekom hy ná die skietery skreeuend deur die huis geloop het op soek na Reeva, maar ophou skree het toe hy die toiletdeur oopbreek en haar gebroke lyf vashou. “Dit was toe die tyd om te skree, ‘Reeva, Reeva, is jy oukei?’ Hoekom het jy nie toe geskree nie?” Oscar het geantwoord: “Ek weet nie wat die doel van ’n geskreeuery sou wees nie.”

'Hulle het Reeva se bloedstollende gille gehoor.'

Gerrie het gesê dit was Reeva wat voor die skietery so hard geskree het dat die bure dit gehoor het. “Hulle het Reeva se bloedstollende gille gehoor; hulle het dit gehoor terwyl sy van jou gevlug het.”

Oscar het dit ontken. Hy het Dinsdag in die getuiebank grotendeels kalm gebly nadat Gerrie hom daarvan beskuldig het dat hy hartseer of berou veins wanneer hy sukkel om vrae te beantwoord.

Valentynsgeskenk

Op ’n vraag van Barry het Oscar vertel Reeva het vir hom ’n Valentynsgeskenk met ’n kaartjie gegee waarin sy die eerste keer haar liefde aan hom verklaar het. Oscar het aan die hof gesê hy het die geskenk maande ná die skietvoorval oopgemaak, op 8 Augustus verlede jaar, om Reeva se 30ste verjaardag te herdenk. Maar die blonde model is op 19 Augustus gebore.

Nadat Oscar die getuiebank verlaat het, het Barry Roger Dixon geroep, ’n voormalige senior forensiese kenner vir die polisie, wat aan die hof gesê het hy het klank- en sigtoetse gedoen wat die getuienis van Oscar se bure weerspreek.

Die bure het aan die hof gesê hulle het ’n vrou se gille gehoor, gevolg deur ’n sarsie skote en het toe ’n skaduwee in sy verligte badkamervenster sien beweeg.

Roger het getuig Reeva het moontlik gereik na die toiletdeur se handvatsel toe sy geskiet is – te oordeel aan die splinters van die deur wat in haar vel vasgesit het – maar het saamgestem met die staat dat sy op die tydskrifrak geval het. “Die merke stem ooreen met val op die tydskrifrak.”

Hy het saamgestem met Oscar se verdediging dat polisiebeamptes moontlik bewyse bederf het deur aan die hof te sê dit was duidelik dat iemand op die deur getrap het, en het dit “uiters onprofessioneel” genoem. Die staat het gevra dat die saak tot 5 Mei uitgestel word en regt. Thokozile Masipa sal Woensdag hierop beslis.

- Sapa