Terwyl Reeva Steenkamp se gedenkdiens in Port Elizabeth plaasgevind het, het Oscar Pistorius vandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van haar dood.

Oscar het nie self tydens sy borgtogaansoek getuig nie, maar sy regsverteenwoordiger, Adv. Barry Roux, het ‘n verklaring namens hom voorgelees.

In die verklaring ontken Oscar dat hy Reeva Steenkamp vermoor het, en voer aan hy het haar vir ‘n inbreker aangesien.

Hy't ‘n geluid gehoor en dit was pikdonker. Hy het nie die lig aangesit nie en het nie sy prosteses aangehad nie. Hy sê hy was oortuig Reeva is in die bed toe hy vier skote op die badkamerdeur afgevuur het.

Hy het eers daarna besef dat sy moontlik in die badkamer kon wees.

Roux het ook verklarings deur twee van Pistorius se vriende asook ‘n vriendin van Steenkamp voorgelees.

Oscar is vandag in die hof as ‘n “gawe ou” beskryf wat “baie lief was vir Reeva”.

Hy het keer op keer in trane uitgebars as Reeva se naam genoem is. In ‘n stadium is hofverrigtinge gestop omdat Oscar onbeheersd begin huil het. Sy broer en gesin moes hom telkemale troos.

Landdros Desmond Nair het vandag beslis dat Oscar se borgtogaansoek as ‘n skedule 6-misdaad aangehoor sal word. Hy staan tereg op ‘n aanklag van moord met voorbedagte rade.

Die borgtogaansoek is uitgestel tot Woensdag. Hy word steeds in die Brooklyn-polisieselle aangehou.

Sien die verloop van vandag se hofgebeure minuut-vir-minuut op ons Twitterblad.

Wat is verskil tussen moord en moord met voorbedagte rade? Lees meer hier.

Video: Oscar in die hof:

Foto: AAI/FOTOSTOCK SA