So het die Nasionale Vervolgingsgesag vanoggend in ’n verklaring gesê by monde van Nathi Mncube, hul woordvoerder.

Dit beteken die staat gaan die hof om toestemming vra om die appèlhof te nader in die hoop dat ’n ander regter of regters tot ’n ander gevolgtrekking as regt. Thokozile Masipa kan kom.

Regt. Masipa het Oscar skuldig bevind aan strafbare manslag en hom gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf kragtens artikel 276 (1)i, wat beteken dat hy ná 10 maande in aanmerking kan kom vir parool. Dit volg nadat Oscar op Valentynsdag verlede jaar sy meisie, Reeva Steenkamp, deur ’n toe badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Nathi het gesê deur die aansoek sal hulle graag duidelikheid by die appèlhof wil kry oor die beginsel van dolus eventualis. Dit beteken ’n oortreder kon voorsien dat sy handeling ’n ander mens onregmatig sal doodmaak.

Nathi het verder gesê Oscar se regspan het aangedui het hulle sal die staat se aansoek teenstaan.

- Hilda van Dyk