Die verdediging gaan sy saak probeer bewys dat Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, vir ’n inbreker aangesien het toe hy haar op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria skiet. Hy staan tereg weens haar moord. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Oscar het vier skote deur ’n geslote deur in sy badkamer afgevuur; hy het gedink daar skuil ’n inbreker agter die deur wat hom wou aanval. Reeva was agter die deur en is in die heup, arm en kop getref.

Die laaste getuie wat deur Barry Roux (vir Oscar) geroep is voor die hofsaak op 17 April uitgestel is, was Roger Dixon, ’n geoloog en voormalige forensiese ontleder vir die polisie.

Hy het onder meer getuig oor Reeva se koeëlwonde, en merke wat Oscar op die toiletdeur gemaak het toe hy dit probeer oopskop en toe met sy krieketkolf oopgeslaan het om by ’n noodlottig gewonde Reeva te probeer kom.

Die aanklaer, Gerrie Nel, het Roger gekritiseer omdat hy beweer het hy is ’n kenner op gebiede waarin hy geen kwalifikasies het nie.

Die verdediging gaan vandag en in die komende weke voort om getuies te roep. Volgens Beeld is Wollie Wolmarans, ’n ballistiese deskundige, en Johan Stander, wat betrokke was by die bestuur van die Silver Woods-landgoed, waar die beweerde moord plaasgevind het, is van dié wat na verwagting binnekort sal getuig.

’n Gesaghebbende getuie wat met mensstemme werk, gaan na verwagting getuig in moontlik die laaste been van Oscar se verhoor, berig EWN. Adv. Barry Roux het dit aan verskeie getuies gestel dat Oscar se gille soos ’n vrou s’n klink wanneer hy beangs is, wat kan verduidelik hoekom van sy bure gedink het hulle het Reeva gehoor gil.

Bronne: Sapa/Beeld/EWN