Oscar Pistorius is Maandagaand reeds onder korrektiewe toesig vrygelaat, berig Netwerk24 en News24.

Die korrektiewe toesig- en paroolraad het verlede week gesê dat hy eers vandag uit die tronk sou kom om die res van sy vonnis buite tralies voort te sit.

Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe toesig het egter laat Maandagaand bevestig dat Pistorius reeds vrygelaat is.

“Ja, die plaaslike bestuur van die Kgosi Mampuru II-korrektiewe sentrum het bevestig dat Oscar Pistorius vanaand onder korrektiewe toesig geplaas is,” het hy kort voor middernag aan Netwerk24 gesê.

Pistorius was glo teen Maandagaand tienuur reeds by sy oom se huis, het Pistorius se prokureur, Brian Webber, aan die Johannesburgse dagblad The Citizen bevestig.

Bronne: Netwerk24, News24