Oscar Pistorius is glo van ’n kategorie B-gevangene na ’n kategorie A-gevangene opgegradeer berig die Britse koerant, Daily Mail.

’n Woordvoerder van die Pistorius-familie, Annalise Burgess, het dit ook aan die Daily Mail bevestig.

Dit beteken Oscar kan nou onder meer ’n radio besit, juweliersware soos 'n horlosie kan dra en meer oproepe maak.

Sy toelaag om toiletware en lekkergoed te koop is ook vergroot en hy mag met ’n stokperdjie begin (mits dit nie ’n skerp voorwerp benodig nie).

Ander goeie nuus vir hom is dat hy boonop nie meer sy besoekers agter glas hoef te sien nie. Dit beteken hy mag sy geliefdes nou ’n drukkie gee en soen as hulle kom kuier. Besoekers kan ook nou meer gereeld vir hom kom kuier.

Oscar se nuwe status is glo omdat die tronkowerhede hom nie as ’n gevaar sien nie nie.

Luidens gerugte was Oscar baie teneergedruk in die tronk en het hy gesukkel om sy vonnis te verwerk. Die aankondiging is blykbaar vir hom ’n groot verligting.

Oscar kan so gou as Julie die res van sy vonnis onder huisarres uitdien. Maar tog bly sy toekoms agter tralies onseker omdat die staat sy straf appelleer – die datum vir appèl moet nog bevestig word.

Bron: Daily Mail