Oscar se psigiatriese evaluering is vanoggend deur regt. Masipa bespreek. Sy het uitgewys dat die evalueerders bevind het hy ly nie aan ’n algemene angssteuring nie, en dat hy kon insien dat sy optrede skadelike gevolge kon hê.

Hy kon dus tussen reg en verkeerd onderskei.

“Oscar het nie aan ’n geestesongesteldheid gely wat hom nie-toerekeningsvatbaar gemaak het nie.”

In sy huidige verweer sê hy hy het geen bedoeling gehad om te skiet nie, maar tog het hy die gevaar met ’n vuurwapen genader, het sy gesê.

Met betrekking tot Oscar se veg-of-vlug-reaksie op die moontlike gevaar het die regter gesê die hof aanvaar dat Oscar ’n veg- eerder as ’n vlug-reaksie het.

Sy het ook gesê dat iemand met ’n gebrek soos Oscar s’n in ’n eenderse situasie sekerlik bedreig sou voel, maar dat vroue, kinders en bejaardes ook hierdie soort bedreiging sal kan ervaar omdat hulle ook beperkinge het.

Sy het uitgebrei en genoem: “Die bedoeling om te skiet, beteken nie noodwendig die bedoeling om dood te maak nie.”

“Het die beskuldigde die nodige mens rea gehad toe hy die sneller trek? Met ander woorde, het hy bedoeling gehad?” het sy gevra.

Die onus vir bewys lê by die staat, en hulle moes bewys dat dit bo redelike twyfel is dat hy geskiet het met die bedoeling om dood te maak, het sy gesê.

- Mieke Vlok