Oscar Pistorius se prokureurs probeer buite die hof skik met die ouers van sy oorlede meisie, Reeva Steenkamp, het The Times Dinsdag berig.

Oscar se prokureur, Kenny Oldwage, het bevestig hulle voer samesprekings met die Steenkamp-familie.

“Soos jy sal verstaan, is dit ’n baie sensitiewe situasie,” het hy gesê.

Reeva en haar halfbroer, Adam, het na bewering hul ouers, die pensioentrekkers Barry en June Steenkamp, geldelik bygestaan, insluitend met hul huishuur.

Haar ouers het ’n siviele eis van miljoene rand teen Oscar ingestel vir verlies aan inkomste en emosionele lyding.

Oscar se prokureurs wil die saak voor die afhandeling van die kriminele hofsaak skik.

Adv. Petrus “Dup” de Bruyn, vir die Steenkamps, het gesê: “Daar is nog op niks besluit nie.”

June het geweier om kommentaar te lewer oor die siviele saak. “Dis net te erg... ons rou... ons mis ons baba... ons pragtige, pragtige dogter wat vandag (Maandag 19 Augustus) haar verjaardag moes vier,” het June gesê.

Oscar het op 19 Augustus vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn in verband met Reeva se skietdood op 14 Februarie in sy huis in Pretoria. Die moordverhoor begin op 3 Maart aanstaande jaar.

- Sapa

sapalogo