“Dis verpletterend vir jou weergawe dat daar agt uur nadat sy vermoor is daardie hoeveelheid kos in haar maag was,” het die aanklaer, Gerrie Nel, tydens kruisondervraging in die hooggeregshof in Pretoria gesê aan Oscar, wat verhoor word vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp.

“Ek het nie ’n verduideliking daarvoor nie,” het Oscar geantwoord.

“Prof. Botha het getuig dat ’n mens ná ses uur sou verwag dat die maag leeg sou wees. Ons praat hier van agt uur,” sê Gerrie. “Sy moes twee uur voor haar dood geëet het.”

Oscar het volgehou hulle het op 13 Februarie verlede jaar teen seweuur geëet en kort daarna bed toe gegaan. Sy is omstreeks drieuur die volgende oggend doodgeskiet.

“Hoekom sou daar nog kos in haar maag wees?” het Gerrie gevra.

“Ek weet nie, U Edele,” het Oscar geantwoord.

“Want jy was wakker,” het Gerrie gesê.

Oscar het toe toegegee daar “is ’n moontlikheid” dat sy ná seweuur kon geëet het, maar het later bygevoeg dit was “hoogs onwaarskynlik”.

- Sapa