Ná die hofsaak waarin hy skuldig bevind is aan strafbare manslag, wag hy om te hoor wat sy vonnis is. Hy kan van net ’n opgeskorte vonnis tot selfs 15 jaar tronkstraf opgelê word.

Maar sodra hy vry is, mag hy deelneem.

“Nadat ’n atleet ingeskryf en gekwalifiseer het, mag ons regtens nie die atleet die reg om deel te neem ontsê nie,” het Philip Craven, die voorsitter van die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK), aan Associated Press gesê. “Daar was nog nooit enige voorneme om enige hertoetrede van enige aard te bevorder nie.”

Oscar se geval is een van Philip se uitdagendste in sy 13 jaar as hoof van die IPK. Oscar was lank die Paralimpiese gemeenskap se goue seun, en het opslae gemaak toe hy in 2012 op die Olimpiese Spele die eerste dubbel geamputeerde word wat aan die Spele deelneem. Hy het toe aan die Paralimpiese Spele deelgeneem, en goud in die 400 m-wedloop en 4 x 100 m-aflos gewen. Maar op Valentynsdag verlede jaar het Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet toe hy vier skote na ’n geslote toiletdeur in sy huis skiet. Hy het beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

'wat ’n jaar en ’n half gelede gebeur het, het niks met sport te doen nie.'

“Ek was twee dae lank in skok, toe besef ons ons moet dit gou oorkom,” sê Philip.

“Natuurlik was hy ’n wonderlike atleet, maar wat ’n jaar en ’n half gelede gebeur het, het niks met sport te doen nie. Tog is dit ’n absolute tragedie.”

Maandag vier die IPK hul 25-jarige bestaan, al is die Paralimpiese Spele reeds in 1960 die eerste keer gehou.

Philip sê hulle is nie afhanklik van die aansien van een atleet nie.

“Daar is so baie wonderlike Paralimpiese atlete wat die beweging kan bevorder,” het Philip gesê.

“Daar is so baie atlete wat nou goed vaar dat ons nie op een atleet steun nie; ons het nog nooit gedink ons is van een atleet afhanklik nie.”

Daar is ook ander ster-naellopers, soos Alan Oliveira, wat Oscar in 2012 op Londen se Olimpiese Spele in die 200 m-wedloop geklop het.

Dié Brasiliaan gaan waarskynlik in 2016, wanneer die spele in Rio de Janeiro gehou word, voor sy tuisskare deelneem.

Dit sal eers volgende maand bekend word of Oscar gaan deelneem.

- Rob Harris/Sapa