Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Donderdag aangedui hy beoog om te appelleer teen die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag omdat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het.

Pistorius se verdedigingspan het die kennisgewing Vrydag gekry en die hooggeregshof in Pretoria en die appèlhof het die kennisgewings Maandag gekry, het die woordvoerder Velekhaya Mgobhozi gesê.

Mgobhozi het gesê die staat sal wag vir transkripsies van die hofrekord voor dit sy dokumente indien.

Regter Thokozile Masipa het in Desember aan die staat verlof toegestaan om te appelleer teen Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag, maar nie sy gevangenisstraf van vyf jaar nie.

Pistorius sal intussen voortgaan om sy huidige vonnis uit te dien.

Masipa het Pistorius op 21 Oktober gevonnis tot vyf jaar tronkstraf vir strafbare manslag vir die dood van Steenkamp. Nadat hy ’n sesde van sy straf (10 maande) uitgedien het, mag hy aansoek doen om onder korrektiewe toesig vrygelaat te word.

Swaarder straf

Die staat het in November dokumente ingedien om te vra vir ’n ernstiger skuldigbevinding en swaarder straf.

Die aanklaer Gerrie Nel het betoog die vonnis wat Pistorius opgelê is, is “skokkend onvanpas”. Barry Roux, vir Pretorius, het egter gesê die wet is reg toegepas in die skuldigbevinding en vonnisoplegging.

Pistorius het op Valentynsdag in 2013 vier skote deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet omdat hy blykbaar gedink het Steenkamp is ’n indringer.

Die staat het betoog die hof behoort vier sake in gedagte te hou, insluitend of die beginsels van dolus eventualis (opset by moontlikheidsbewussyn) in die saak reg toegepas is.

Tydens vonnisoplegging op 11 September het Masipa gesê dit was belangrik om vas te stel of Pistorius bedoel het om te moor toe hy vier skote op die geslote toiletdeur geskiet het.

Iemand wat aan dolus eventualis skuldig bevind word, sou voorsien dat hul optrede iemand se dood sou veroorsaak, maar nietemin voortgegaan het.

Nel het betoog Steenkamp is doodgeskiet onder “die verskriklikste omstandighede”.

Pistorius is tot nog drie jaar gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, omdat hy in Januarie 2013 ’n wapen afgevuur het in die Sandtonse restaurant Tasha’s. Die staat het nie dit by sy appèlplan ingesluit nie.

- Sapa