Wayne Derman, ’n dosent aan die universiteit van Kaapstad wat ses jaar lank met Oscar gewerk het, het gesê Oscar sou rondkyk in die eetsaal, saam met sy span en tydens persoonlike konsultasies in Wayne se kantoor.

Hy het hiperwaaksaamheid beskryf as “rusteloos rondkyk en ’n gedurige uitkyk vir potensiële bedreigings”.

Oscar was ’n beangste individu wat gely het aan handbewings en ’n slaapsteuring, wat Wayne medies moes behandel, het die hof gehoor.

Hy het gesê tydens die opening en sluiting van sportgeleenthede, soos die Olimpiese Spele, sou Oscar oordrewe verskrikte reaksies op die vuurwerkvertoning hê.

Hy het gesê Oscar het ineengekrimp en sy kop en ore bedek tot die geraas geëindig het.

Wayne is ’n mediese praktisyn wat in sport- en oefeningsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad doseer en het deur assesserings en konsultasies met Oscar gewerk. Hy het ook as geneesheer gewerk saam met die Suid-Afrikaanse span by die Olimpiese Spele in sowel Beijing as Londen.

Hy het Oscar beskryf as iemand wat tydens siekte versigtig was om nie verbode middels in te neem nie.

Wayne het gesê Oscar het nooit positief getoets vir verbode middels nie.

Oscar het Wayne een keer gebel vir ’n voorskrif vir medikasie vir sinusitis. In die oproep het Wayne gevra hoe dit met Oscar gaan ná sy deelname aan die Olimpiese Spele in 2012 in Londen.

Oscar het geantwoord hy “lê langs die wonderlikste meisie wat hy ooit ontmoet het” en kan nie wag om hulle aan mekaar voor te stel nie.

Wayne het ’n e-pos gelees van ’n masseerterapeut wat mense met haar bene masseer omdat sy nie haar hande kan gebruik nie.

In die e-pos het sy aan Wayne verduidelik hoe ongestremde mense nie verstaan hoe verskerp ’n gestremde individu se reaksie op ’n onveilige situasie kan wees nie.

Adv. Gerrie Nel het beswaar aangeteken voor Wayne die e-pos kon klaarlees. Hy het beweer dit is hoorsê, want die vrou is nie ’n getuie nie en haar mening speel nie ’n rol in die verhoor nie.

Oscar staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Sy is in die heup, arm en kop getref.

Nadat hy die skote afgevuur het, het hy ’n krieketkolf gebruik om die deur oop te breek om by die noodlottig gewonde Reeva uit te kom.

Hy het onskuldig op die moordaanklag gepleit, asook aanklagte wat met vuurwapens verband hou.

Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Die hof is vir middagete verdaag.

- Sapa