Oscar het vanoggend vlugtig voor landdros Desmond Nair in die Pretoriase landdroshof verskyn. Hy word aangekla van moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, wat op 14 Februarie vanjaar in sy huis in Pretoria doodgeskiet is.

Die landdros het gesê: “Die saak wat vandag voor my is, is net vir die uitstel na die hooggeregshof. Dit is net ’n vlugtige verskyning.’’

Gerrie Nel, die aanklaer, het ’n klagstaat aan die hof oorhandig. “Ons sal die aanklag op die beskuldigde beteken. Ons het ’n datum vir die hofsaak gereël; dit sal van 3 Maart tot 20 Maart wees.”

Daarna het die landdros die klagstaat op Oscar beteken. Die landdros het Oscar gevra of hy insae in die klagstaat gehad het, waarop hy geantwoord het: “Nee, meneer.”

Die saak is toe na die hooggeregshof verskuif en sal op 3 Maart aanstaande jaar begin.

- Sapa

sapalogo