LegoPistorius het reeds oor die 400 foto’s op Instagram gelaai, waarin die lemnaeler onder meer buite die hof staan, met sy prokureur Barry Roux in die hof praat en forensiese ondersoekbeamptes die omstrede toiletdeur bespreek.

Die man agter dié innoverende projek is vandeesweek onthul as die 29-jarige Mando Tejeda van Chicago in Amerika, berig Pretoria News. Hy het die blad in November 2013 begin.

Sy profiel het nou meer as 2 000 volgelinge en word op Instagram beskryf as “ ’n profiel oor ’n klein Lego-mannetjie wat vestommend baie na die einste Oscar Pistorius lyk. Geskep deur ’n aanhanger, hardloper en Lego-verslaafde.”

Hy het die Oscar-mannetjie tydens die Olimpiese Spele in 2012 bekom en dit bestel by ’n webtuiste wat beeldjies volgens mense se spesifikasies maak.

Mando het aan Pretoria News gesê hy moes sedertien kennisgewings van Instagram afskakel omdat hy so baie reaksie op die blad ontvang het.

“Dit het my selfoon se battery tot niet gemaak. As Oscar van die profiel te hore kom en dit wil laat sluit, sal ek uit respek so maak,” sê hy.

Besoekers se kommentaar is oor die algemeen positief, maar daar is tog Instagram-gebruikers wat voel Mando se blad is onsensitief.

“Ek hoop Oscar sal dit sien soos wat ander mense dit sien; as ’n ander tipe verslaggewing wat deur sosiale media gedoen word. Dit probeer berig oor ’n baie moeilike kwessie en wêreldgebeurtenis,” het hy aan Pretoria News gesê.

- Mieke Vlok