“Ons ontken ten sterkste die inhoud van haar brief wat betrekking het op ons kliënt en ontken verder dat ons kliënt enige ‘toneelspellesse’ of enige vorm van emosionele afrigting ondergaan het,” het die familie se woordvoerder, Anneliese Burgess, gesê.

Sy het reageer op ’n blog-inskrywing van Jani waarin sy beweer dat Oscar “toneelspellesse” ter voorbereiding van sy verhoor gekry het.

“Hierdie soort opmerking maak ’n bespotting van die enorme tragedie wat die Steenkamp-gesin, ons kliënt en sy familie deurmaak.”

Anneliese het gesê Jani het Oscar nog nooit ontmoet nie en enige kennis wat sy oor hom het, kan net as “fiktief” beskryf word. “Haar aansprake dat mnr. Pistorius ‘toneelspellesse gekry het’, is van alle waarheid ontbloot.”

Oscar word aangekla van die moord op sy meisie, die model Reeva Steenkamp, op 14 Februarie verlede jaar in sy huis in Pretoria. Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur geskiet nadat hy glo gedink het sy is ’n inbreker.

Die atleet word ook aangekla van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy het na bewering ’n skoot van ’n Glock-pistool onder ’n tafel in ’n restaurant in Johannesburg in Januarie 2013 afgevuur, en op 30 September 2012 het hy glo met sy 9 mm-pistool deur ’n motor se sondak geskiet terwyl hy saam met vriende in Modderfontein gery het. Die saak word op 5 Mei hervat.

– Sapa