“Hy het my vertel dat daar ’n inbreker was; dat hy beslis skote na die geluid afgevuur het omdat hy bang was. Dit was sy weergawe,” het die forensiese sielkundige Meryll Vorster gesê.

“Hy het nie spesifiek gesê dat hy vier skote afgevuur het nie. Hy het gesê hy het gemik na die geluid.”

Die aanklaer in die saak, Gerrie Nel, het daarteen beswaar gemaak en gesê die atleet het getuig dat hy op ’n inbreker gemik het en nie ’n geluid nie.

Meryll het saamgestem dat daar strydigheid is, maar het gesê Oscar se weergawe aan haar kon aanvaar word.

“Wanneer ’n mens in so ’n situasie is, sou ek nie verwag dat hulle elke detail sou onthou nie,” het sy gesê.

Sy het Oscar op 2 en 7 Mei gesien.

Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Oscar het onskuldig gepleit; hy beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Meryll het gesê klinies presenteer Oscar met angssteuring as sy geskiedenis, onderhoude met hom en simptome in ag geneem word.

Sy het gesê hy funksioneer normaal, maar het nie hegte verhoudings met vriende nie, en sy seksuele verhoudings was kort.

Vroeër het Meryll ook gesê Oscar ly aan algemene angssteuring. Sy het gesê haar diagnose sou relevant wees as die hof bevind hy het ’n inbreker geskiet.

“Dit sou irrelevant wees as die hof bevind hy het Reeva met opset geskiet. Dan speel dit nie ’n rol nie,” het sy gesê.

Oscar kan onderskei tussen reg en verkeerd, maar sy steuring kon sy dade beïnvloed.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Nadat Gerrie sy kruisondervraging afgesluit het, het Barry Roux (vir Oscar) Meryll begin herondervra.

- Sapa