Oscar Pistorius het die toiletdeur probeer afskop. So het adv. Barry Roux SC vanmiddag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gesê tydens die kruisondervraging van kol. Johannes Gerhardus Vermeulen van die polisie se forensiese afdeling. Oscar staan tereg vir die moord op Reeva Steenkamp verlede jaar.

Barry het ’n merk op die deur onder die handvatsel aan Johannes uitgewys. Johannes het vroeër getuig hy het die merk gesien, maar kon nie vind dat dit met die krieketkolfhoue verband hou nie.

Barry het aangevoer die merk is veroorsaak toe Oscar die deur met sy prostese geskop het en hy sal later bewyse hiervan lewer. Dít strook ook met Oscar se weergawe dat hy op sy stompies was toe hy die skoot afgevuur het, kamer toe gehardloop het, sy prostese aangetrek en terug na die badkamer gegaan het om die deur oop te kry.

Johannes het egter getuig daar kan ook ander redes vir die merk wees. “Dele van die deur is uitgeruk. Dit kan wees dat hy oor daardie paneel gestruikel het. Dit was ’n gesukkel om me. Steenkamp uit die badkamer te kry. As hy sy prostese aangehad het, kon hy gestruikel het. Ek bespiegel nou, maar skop is nie noodwendig die enigste rede vir die merk nie.”

Johannes het gesê daar moet bewys word dis ’n skopmerk en of Oscar sy been so hoog kan lig.

Die kenner het kom getuig oor die houe in die deur wat deur ’n krieketkolf veroorsaak is. Volgens hom is die houe in die deur geslaan nadat die skote afgevuur is. Hy het ook bevind dat Oscar op sy stompies was toe hy die deur geslaan het. Barry het gesê volgens Oscar se weergawe het hy sy prostese aangehad.

– Hilda Fourie