Oscar het by die hooggeregshof in Pretoria aangekom en het op pad na sy verdedigingspan verby die bank gestap waar Reeva se ouers, June en Barry, saam met ander familielede gesit het.

Hy het “goeiemôre” gemompel, wat met stilte begroet is.

Kort daarna het sy oom Arnold se vrou, Lois, na die Steenkamp-familie gegaan.

Sy het Barry ’n drukkie gegee en hy het vir haar geglimlag.

Dit is die eerste keer dat Barry in die openbaar met die Pistorius-familie gesien is.

Hy is Donderdag die eerste keer in die hof gesien; hy het kort voor die aanvang van die saak siek geword.

Oscar staan tereg weens moord; hy word daarvan aangekla nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar geskiet het.

Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aanval. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet en dit was vooraf beplan.

Hy staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Oscar se pa, Henke, het ook Vrydag die verrigtinge bygewoon.

Buiten ’n handdruk het pa en seun Donderdag min interaksie gehad.

Maar Henke het Vrydag kort voor die verrigtinge begin het na die beskuldigdebank gestap en sy seun styf gedruk en op die rug geklop, en het later sy hand vasgehou.

Ondersteuning vir Oscar Pistorius duur intussen voort naby die afsluiting van sy verhoor. Daar was ’n groep groen en geel ballonne vasgemaak op ’n bank by ’n bushalte buite die hooggeregshof in Pretoria.

“Oscar Pistorius, jy bly ons held,” is op ’n plakkaat langs die ballonne geskryf.

Dit is onduidelik wie die ballonne en plakkaat daar geplaas het.

- Sapa