’n Verhoordatum sal na verwagting bekendgemaak word wanneer Oscar Pistorius Maandag weer in die hof verskyn, het The New Age Dinsdag berig.

“Ons hoop om die klagstaat teen eerskomende Maandag gereed te hê. ’n Verhoordatum sal tydens die volgende hofverskyning bekendgemaak word,” het Medupe Simasiku, die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, aan die koerant gesê.

“Ons hoop om die aanklag teen Woensdag op die laatste by die polisie te kry. Eers wanneer die klagstaat gereed is, sal ’n verhoordatum bekendgemaak word,” het hy bygevoeg.

Medupe het gesê hy sal teen Woensdag meer duidelikheid hê oor wat in die hof verwag kan word.

Oscar word van moord aangekla nadat sy meisie, die model Reeva Steenkamp, op 14 Februarie by sy huis in Pretoria doodgeskiet is. – Sapa