Regter Thokozile Masipa het Oscar Pistorius vanoggend in die Noord-Gauteng-hooggeregshof gevonnis vir die skietdood van Reeva Steenkamp.

Sy het Oscar tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir strafbare manslag.

Vir die onwettige afvuur van 'n vuurwapen (die voorval by Tashas) is hy tot drie jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort. Die strawwe kan gelyktydig uitgedien word.

Daar was verskerpte veiligheidsmaatreëls by die hof asook afgesperde strate waar polisiebeamptes dit met snuffelhonde patrolleer het.

Oscar se sielkundige Lore Hartzenberg was ook aan die paralimpiese atleet se sy toe hy vanoggend by die hof aangekom het. Verskeie familielede was ook daar om hom te ondersteun.

Reeva se ouers, Barry en June, was ook in die hof.

Oscar is op 12 September vanjaar skuldig bevind aan strafbare manslag. Hy is egter vrygespreek op die aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en een van die aanklagte van die onwettige afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek.

Maar hy is wel skuldig bevind van die onwettige afvuur van ’n vuurwapen in Januarie verlede jaar in die restaurant Tasha’s in Melrose Arch, Johannesburg.

Verlede week het sy advokaat, Barry Roux aangevoer dat Oscar nie tronk toe gestuur moet word nie, veral nie as hy saam met ander siek mense in die hospitaal-deel aangehou sal word nie. Oscar is volgens Barry iemand wat ’n verskil in die samelewing wil maak. Hy weet hy sal nie kan vergoed vir wat hy gedoen het nie, maar hy wil steeds goed doen.

Adv. Gerrie Nel vir die staat het aangevoer huisarres is ’n skokkende vonnis, wat heeltemal buite verhouding is met wat Oscar gedoen het toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, doodskiet.

Gerrie het gevra vir direkte tronkstraf.