“Toe hy my bel, het hy gesê hy het ’n fout gemaak,” het Johan Stander gesê onder kruisondervraging van die aanklaer, Gerrie Nel.

Gerrie het gesê: “Nee, hy het dit nooit gesê nie. Hoekom wil jy insluit dat hy ’n fout gemaak het?”

“Dit was ek wat die fout gemaak het,” het Johan geantwoord terwyl hy met sy waterbottel gepeuter het.

“Hoekom sou jy so ’n fout maak? Wil jy mnr. Pistorius met sy verdediging help?” het Gerrie voortgegaan.

Johan het geantwoord: “U Edele, ek is hier om die waarheid weer te gee. Sover ek weet, was dit ’n fout. Hy het nooit gesê dit was ’n fout nie. Dit is hoe ek dit verstaan het.”

Johan het verduidelik dat hy die oproep wat hy van Oscar op Valentynsdag gekry het, as ’n fout geïnterpreteer het. Hy het gesê soos hy dit verstaan, wou Oscar nie die vermeende inbreker skiet nie.

Oscar het Johan om 03:18 op Valentynsdag verlede jaar gebel, kort nadat hy Reeva geskiet het. Johan en Oscar woon albei op die Silver Woods-landgoed in Pretoria.

Johan het aan die hof gesê dat Oscar hom gebel het en die volgende gesê het: “Oom Johan, kom asseblief, asseblief, asseblief na my huis toe. Ek het Reeva geskiet; ek het gedink sy is ’n inbreker.”

“Kom asseblief, asseblief, asseblief gou.”

Gedurende sy kruisondervraging het Gerrie Johan gevra wat na sy mening die fout was.

“Die feit dat hy haar geskiet het? Mnr. Stander, hoe kan jy van daardie oproep aflei dat hy haar per ongeluk geskiet het? Hoekom wil jy nou aan die hof sê dat hy ’n fout gemaak het deur te skiet?”

Johan het geantwoord: “Ek kyk na daardie oproep. Ek kan dit interpreteer deur te sê hy het ’n fout gemaak. Hy het gesê hy het haar vir ’n inbreker aangesien.”

Oscar staan tereg weens moord nadat hy Reeva doodgeskiet het. Hy het haar deur die geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker gesien.

Oscar het onskuldig gepleit. Die staat beweer hy het Reeva tydens ’n rusie geskiet.

Johan het Oscar in Mei 2009 ontmoet toe hy op die landgoed kom woon.

Hy het gesê die atleet het hom gereeld gevra om na sy huis en troeteldiere te kyk wanneer hy oorsee aan atletiekkompetisies moes gaan deelneem. Johan het Reeva in Desember 2012 ontmoet en haar weer in Januarie 2013 gesien.

Die hof het gehoor volgens die reëls van die landgoed mag daar geen addisionele diefwering aangebring word nie.

Hy het gesê hy het nooit sosiaal met Oscar verkeer nie en het die atleet nooit met ’n vuurwapen gesien nie.

Sedert die skietvoorval het hy die aand se gebeure nooit met Oscar bespreek nie. Hy het gesê hy het ’n gedenkdiens vir Reeva bygewoon wat Oscar by sy huis gehou het.

- Sapa