Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag gehoor die paartjie wat ’n vrou op die aand dat Oscar Pistorius Reeva Steenkamp geskiet het, hoor gil het, het moreel verplig gevoel na vore te kom.

“Ons wou aanvanklik nie betrokke raak nie,” het die IT-projekbestuurder Charl Johnson gesê tydens sy ondervraging deur adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer.

Terwyl hy en sy vrou, Michelle Burger, op 22 Februarie verlede jaar op pad Mpumalanga toe was, het hulle oor die radio van Oscar se borgtogaansoek gehoor.

Hulle het toe besef die Paralimpiese atleet se weergawe van die gebeure verskil van wat hulle van die noodlottige aand onthou.

Hulle het ’n prokureurvriend genader, en ’n paar dae later het kapt. Mike van Aardt na hul huis gekom om hul verklaring af te neem.

Die paartjie se huis op die Silver Stream-landgoed is 177 m van Oscar se huis in die aangrensende Silver Woods-landgoed.

Oscar se prokureur het Dinsdag ook die tweede getuie se kruisondervraging afgehandel.

Estelle van der Merwe, wat op dieselfde landgoed as Oscar woon, sê sy het iets gehoor wat geklink het na ’n rusie in ’n nabygeleë huis.

Sy het nie onmiddellik die skietery en die rusie met mekaar verbind nie. “Ek weet nie waar die skote vandaan gekom het nie,” sê sy.

Sy het getuig dat haar man deur die venster geloer het nadat hulle die skote hoor klap het, en dat hulle toe iemand hoor huil het.

“My man sê dit was Oscar wat gehuil het,” sê sy.

Volgens haar kan sy nie alles onthou wat daardie aand gebeur het nie: “Die voorval het meer as ’n jaar gelede gebeur; ek kan nie alles onthou nie.”

Die hof het drieuur verdaag. Anders as Maandag, was die Pistoriusse nie haastig om die hof te verlaat nie. Oscar het meer op sy gemak gelyk; hy het na die galery gekyk en het gesels met twee polisiebeamptes en sy suster, Aimee.

OSCAR-SAAK – 11 móét-sien foto’s van dag twee.