“In ooreenstemming met die bepalings van die Staatsdienswet het me. Vergeer aansoek gedoen by die rekenpligtige beampte van die Gautengse departement van sosiale ontwikkeling om privaat dienste te lewer terwyl sy steeds vir die departement gewerk het, maar die aansoek is nie toegestaan nie, hangende nog inligting van me. Vergeer,” het die nasionale departement Maandag in ’n verklaring gesê.

“Die departement oorweeg dus dissiplinêre stappe en soek regsmening oor wat ’n belangebotsing blyk te wees.”

Annette het getuig tydens vonnisverrigtinge vir Oscar in die hooggeregshof in Pretoria.

Tydens haar getuienis het die hof gehoor hoe Annette, wat aanbeveel het dat Oscar korrektiewe toesig kry, in haar privaat hoedanigheid aan die saak gewerk het.

Oscar is verlede Dinsdag tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir strafbare manslag.

Oscar is vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, Reeva Steenkamp. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria doodgeskiet omdat hy haar vir ’n inbreker aangesien het.

Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Melrose Arch in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is.

Regt. Thokozile Masipa het beslis die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.